Geskiedenis

ONTSTAAN

Die historiese stigting van die N.G. Gemeente Wellington-Noord het ’n lang aanloop gehad. In 1951 het ds. W.A. Alheit van die N.G. Moedergemeente syfers in verband met kerkbywoning aangehaal en beter bearbeiding bepleit. In daardie stadium was daar reeds meer as 2 400 lidmate wat deur twee leraars bearbei moes word . Sommige wyke was te groot en ’n kommissie is deur die Kerkraad benoem om op die saak in te gaan.
Op uitnodiging ontmoet ds. W.A. Landman en dr. H.D.A. du Toit die Kerkraad namens die Ring van die Paarl op 12 Februarie 1952. Hulle is in opdrag van die jongste Sinode afgevaardig om die Kerkraad te spreek in sake meer werkkragte in die Gemeente, of verkieslik afstig-ting. Alhoewel die kerkraad op hierdie tydstip van mening was dat die gemeente nog nie die finansiële las van ’n derde leraar kon dra nie, is die saadjie wat tot afstigting sou ontkiem, tog gesaai, want ’n uitbreidingsfonds word op voor-stel van ds. Alheit gestig. As ’n noodmaatreël sou daar jaarliks vanaf 15 Desember ’n propo-nent vir ses maande aangestel word vir vakan-sietye van die leraars en veral vir die meer intensiewe bearbeiding van die jongmense.

Gedurende die daaropvolgende twee jaar word verskeie moontlikhede met afstigting oorweeg as die uiteindelike ideaal. ’n Kommis-sie wat op 7 Desember 1954 benoem word om die hele aangeleentheid van afstigting of uit-breiding te ondersoek, rapporteer op 12 April 1955 dat

  • die lidmate 2 460 tel;
  • geen deel van die gemeente ryp is vir afstigting nie;
  • die koste aan die aanstelling van ’n derde leraar £2 000 (R4 000) per jaar sal wees as die Gemeente in drie wyke verdeel word.

Geen definitiewe besluit word geneem nie en ds. D.T. du P. Moolman word in die Gemeente ontvang.
In Augustus van hierdie jaar spreek ds. W.A. Landman as lid van die Ringskommissie weer eens die kerkraadsvergadering toe en her-haal dat die Ring besorg voel oor doeltreffende bearbeiding in ’n gemeente wat te groot vir twee leraars is. Hy stel weer afstigting as ideaal, maar meen ook dat die drie wyke-stelsel ’n tydelike oplossing sal bied.

Die indeling van die Gemeente in drie wyke bring mee dat ’n pastorie vir die derde leraar gebou moes word. ’n Erf van mnr. B. van der Merwe word teen £500 aangekoop en ’n tender vir £6 442 vir die bou van ’n pastorie word aanvaar. Op 10 April word besluit om ’n derde leraar te beroep aangesien die nuwe pastorie aan die begin van Augustus bewoonbaar sou wees.

Nou volg ’n tydperk waarin verskeie leraars vir die beroep as derde leraar van die Moeder-gemeente bedank. Uiteindelik is daar op 4 Desember ’n bespreking waaraan ’n hele aantal kerkraadslede deelneem. Daar word voorgestel dat ’n kommissie aangestel word om die gevoelens van die noordwestelike deel van die Gemeente te toets insake afstigting. Uit hulle verslag blyk dit dat van die nege wyke waarin 228 huisgesinne woon, 78% van die lidmate hulle ten gunste van afstigting verklaar, 13% neutraal staan en 9% daarteen gekant is. Die aanbeveling van die wyksverteenwoordigers is dus: “Aangesien ’n ruim aantal lidmate om afstigting vra, word aanbeveel dat die Kerkraad by die Ring aansoek doen om afstigting van die betrokke deel van die Gemeente wat vergesel sal word van die nodige waarborg.” Die vergade-ring verneem ook dat twee broeders van die gemeente aangebied het om die vereiste waar-borg van £500 vir 5 jaar te teken en dat aansoek om ’n aandeel in die pensioenfonds reeds gedoen is.

BRUIDSKAT

’n Kommissie word aangestel om die kwessie van die bruidskat te ondersoek. Met stemming is daar 46 stemme vir afstigting en 2 daarteen. Die volgende Kommissie word aangestel om alle aangeleenthede in verband met afstigting te ondersoek: brs. Klaas Malan, Hennie Bester, Chris du Toit, Koos le Roux, P. Joubert, J.R. van der Merwe (C/seun), D.J. van der Merwe, G.F. Lochner, T.F. Burger, A.W. Retief, Joubert Cillie, Kosie Louw, Hendrik Lochner en di. E.J. du Toit en J.G.S. van Jaarsveld.

Op 12 Maart 1957 besluit die Kerkraad eenparig op ’n bruidskat van £12 500, waarvan £10 000 oorbetaal sou word by afstigting en die res by die hoeksteenlegging.

GEMEENTEGRENSE

Die grense van die nuwe gemeente word soos volg in Die Kerkbode van 8 Mei 1957 gepubliseer:

“(a) Die gebied van die Gemeente Wellington-Noord lê noordwes van die volgende grens tussen Wellington en Wellington-Noord: beginnende aan die suidekant by ’n punt waar die spoorlyn die gemeentelike grens tussen die Paarl-gemeentes en Wellington sny, en dan ooswaarts met die spoorlyn tot by die oorweg aan die einde van Pentzstraat, Wellington; dan met Pentzstraat tot waar Pentzstraat en Markstraat kruis; vandaar met Markstraat tot waar Murraystraat regs uitdraai, en dan met Murraystraat tot waar dit doodloop in Jan van Riebeeckstraat, daarvandaan die suidwestelike en suidoostelike grense van die Laerskool Hugo Rust, vandaar beginnende al langs die grense van die Sendinginstituut tot aan die Bosmans-rivier. Aan die noordelike kant van die Bos-mansrivier langs die oostelike grens van Onver-wacht tot waar dit bokant Hexberggarage die Groenbergpad sny; vandaar met die Groen-bergpad tot by Driefontein en dan met die grense tussen Laboroux en Olifantskop, Vondeling en Nabygelegen tot vas aan die Groenberg.

“(b) Aan die ander kante van Wellington-Noord sal die bestaande grense van Wellington dié van Wellington-Noord wees.”

EERSTE KERKRAAD

Op 9 April 1957 deel die voorsitter, ds. Moolman, die Kerkraad mee dat die Rings-kommissie die kerkraadslede van Wellington-Noord benoem het en ook bepaal het wie vir een jaar en wie vir twee jaar moet dien. Die gekombineerde vergadering sal bestaan uit die benoemde kerkraadslede en die ou kerkraadslede wat in die Gemeente Wellington-Noord woonag-tig is. Die kerkraadslede vir een jaar sal wees:
OUDERLINGE: Hendrik Bester, Johan Hendrik Franken, Hendrik Jacobus Bester, Gerhardus Jacobus Visser. DIAKENS: Cornelius Johannes Carstens, Gabriel Johannes Malan, Willem My-burgh Serdyn, Hendrik Albertus van Niekerk, Pieter Francois Hugo Winterbach.
OUDERLINGE VIR TWEE JAAR: Hendrik Johannes Basson, Hendrik Jacobus Lochner, Charl Wynand Rossouw, David Barend van der Merwe, James Andrew van Schalkwyk
DIAKENS VIR TWEE JAAR: Hendrik Johan-nes Basson, Stephanus Christaan Dippenaar, Daniël Johannes le Roux, George Stephanus Malan.
Met die oog op die voorgenome vermeerdering van die wyke tot 4 plaaswyke en 8 dorpswyke, is die volgende bykomende kerkraadslede gekies:
OUDERLINGE: J.F. le Roux (Agter-Groenberg) vir twee jaar, D.J. van der Merwe (dorpswyk) een jaar.
DIAKENS: S.F. du Toit (Malanstasie) twee jaar, C.A. Hofmeyr (dorp) een jaar.
Op die eerste gekombineerde kerkraadsver-gadering op 13 Mei 1957 word ds. D.T. du P. Moolman as leraar beroep. Hy neem die beroep aan en op Sondag, 13 Julie in die Kerksaal van die Moedergemeente bevestig.
Aangesien daar ernstig met fondsinsame-lings begin moes word, word die eerste gemeen-tebasaar op 19 Junie 1957 gehou wat die bedrag van £1 068 oplewer.

DIE KERKGEBOU

Die offisiële besluit van die Kerkraad was om die kerk te bou op die oop terrein aan die voorkant van die Highfield woonhuis, aangren-send aan Oxfordstraat. Die Munisipaliteit, aan wie hierdie terrein behoort, het toegestem om ’n ewe groot deel van die kerkgrond benede die pastorie in ruil daarvoor te neem. Tot op 10 September is besware teen hierdie voorgenome ruiling by die Munisipaliteit ingewag, waarna die aangeleentheid met of sonder besware na die Administrateur vir sy beslissing verwys word.
Intussen was die Kerkraad en die Gemeente in eie geledere ernstig verdeeld oor waar die kerkgebou opgerig moet word. Meningsver-skille het soms diep geloop.
Die Boukommissie het ’n reeks besoeke aan nuutgeboude en ook ouer kerke afgelê, soos Vredelust, Bellville-Wes, Tygerberg, Sonnekus, Ceres, Wolseley, Worcester, Bonnievale, ens. Aangesien Worcester-Noord ’n besondere in-druk gemaak het, is daar besluit om die argitek, mnr. H. Sikkel van Pinelands te nader. Laasge-noemde het dan ook die Kerkraad op 27 Feb-ruarie 1957 besoek en volgens sy beraming sal dieselfde kerkgebou op die Kerkraad se grond £3 500 meer kos vanweë die skuinste van die terrein teenoor die koste as dit op die Highfield-eiendom opgerig word. Die vergadering het derhalwe ouderlinge H.J. Bester en D.J. van der Merwe benoem om laasgenoemde eiendom aan te koop.
Die tender van mnr. J.D.J. Brand van Worcester ten bedrae van £32 150 is aanvaar. Met die lening van £20 000 van die Sinodale kantoor in Kaapstad en die Gemeente se eie boufonds wat toe op £12 500 gestaan het, het die Kerkraad besluit om voort te gaan. Die tender van R. Müller & Kie. vir die orrel was £3 980 en van William Keay vir die horlosie en kerkklok was £1 166.
Fondsinamelingspogings het bv. ingesluit die verkoop van poskaarte met ’n skets van die beoogde gebou daarop. Ander bydraes was diaken Carstens wat die hoeksteen geskenk het, ’n ander lidmaat wat aangebied het om die kansel te maak, die Joodse gemeenskap wat die kerkklok geskenk het, die Volkspelelaer die doopvont, die KJV die gehoortoestel met ses gehoorbuise, mev. Buckle die horlosie binne die kerk en die handrelings by die buitenste trappies en mnr. en mev. H. Bester die blomstaanders. Die boufonds het ’n hupstoot gekry met die verkoop van die Stasieskool aan die Provinsiale Administrasie vir £1 700.
Die eerste sooispitseremonie is op Vrydag, 12 September 1958 deur die oudste moeder en vader in die Gemeente, die 95-jarige mev. H. Euvrard en die 85-jarige mnr. D. Hauptfleisch, waargeneem. Die hoeksteen is op 8 November deur ds. Moolman gelê.
Die laaste erediens van die Gemeente in die kerksaal van die Moedergemeente is op Sondag, 6 September 1958 gehou en die inwyding van die nuwe kerkgebou het op luisterryke wyse op Saterdag en Sondag, 12 en 13 September 1958 plaasgevind. Gedurende die naweek van fees-vieringe het o.a. die volgende plaasgevind:

SATERDAG

  • 14:00 – Kerkklok lui die eerste keer
  • 14:30 – Gemeente vergader voor die kerk-gebou
  • Gebed deur ds. J. Ries
  • Boukontrakteur oorhandig sleutel aan mev. Moolman
  • Almal gaan die kerkgebou binne waar ’n hele reeks gebeurtenisse plaasvind. Die inwydingsrede word deur die leraar, ds. Moolman gehou.

SATERDAGAAND lê 34 nuwe lidmate bely-denis van geloof af.
SONDAGOGGEND word die doop bedien aan 5 kinders en preek prof. A.C. van Wyk.
SONDAGNAMIDDAG sit die Ring en die Gemeente saam oor die onderwerpe “Die gemeente, die liggaam van Christus”, “Die verhouding van die Heer tot sy gemeente” en “Die verhouding tussen die lidmate onderling”.
SONDAGAAND word die verrigtinge met ’n gewyde musiekuitvoering afgesluit: ’n orreluit-voering deur Chris Swanepoel, sangsolo’s deur mnr. J. Arnold en koorsang deur die Opleidings-kollegekoor.
Maandag, 14 September het Die Burger soos volg oor die kerkgebou berig:
“Die kerkraad van Wellington-Noord wou ’n kerk in ’n taamlik konserwatiewe styl hê, sodat dit kan inpas in die historiese omgewing van die Wagenmakersvallei met sy Hugenote-tradisie. Hieraan het die argitek tot groot hoogte uitvoering gegee.
“Die agthoekige toring met sy brons spits kan uit alle rigtings van ver gesien word, aangesien die kerk op ’n hoë bult gebou is.
“Die geheelindruk van die gebou is sterk Goties. Hiertoe dra veral die vorm van die deure en vensters by. Die vensters is eenvoudig, maar baie treffend deur ’n Italiaanse firma met fyn steenwerk versier. …
“Die ontwerpers van hierdie kerk het daarin geslaag om met eenvoud en beskeidenheid ’n atmosfeer van diepe gewydheid te skep…” Die berig het verder van die Gotiese boustyl binne die kerk, die loodglasvensters, die preekstoel, die doopvont, die deure, die uurwerk van die toring-horlosie en die konsistorie melding gemaak.

DS. D. T du P. MOOLMAN VERTREK

Ds. Moolman het ’n beroep na die Nuwe kerk op Graaff-Reinet aanvaar en op 30 Julie 1960 vertrek. Vanaf 1963 word hy leraar by die gemeente Port Elizabeth-Hospitaal waar hy ook die hospitaalbearbeiding behartig. Met die afstigting van die N.G. Sinode van Oos-Kaapland word hy die eerste moderator.
Tydens die kwarteeufeesviering van die Gemeente in 1982 het ds. Moolman o.a. die volgende vir die feespublikasie geskryf: “Ek herinner my die mate van huiwering wat bespeur kon word in verband met die hele saak van afstigting, al dan nie. Dit was nie ’n maklike saak vir die destydse Kerkraad van Wellington om, na baie, baie jare, hoegenaamd te besluit op die verdeling van die Gemeente van wyle dr. Andrew Murray nie! En toe die besluit eindelik, na veel wik en weeg, geval het, was daar tog ’n gevoel van heimwee oor ’n bedeling by die moeder om haar dogter te sien gaan … en ook hartseer by die dogter oor die afskeid wat van die moeder geneem moes word … veral in so ’n hegte gemeenskap soos wat Wellington destyds was.
“Maar toe die skeiding in 1957 onherroe-pelik plaasvind, het die gemoedere verander. Die nuwe Gemeente is beetgepak deur ’n onstuitbare geesdrif wat vir ons almal ’n inspi-rasie was…”
Oor die plasing van die VIS op die kerktoring, skryf ds. Moolman soos volg: “Toe breek die dag aan dat die VIS op die kerktoring geplaas moes word! Sou die leraar dit waag om self die hoë spits te bestyg? Hy het gevoel dat dit moontlik verwag word! Ander Bolandse predikante het sulke waagstukke aangevang! Sal hy terugdeins en sy jong Gemeente in die skande steek? Op die bepaalde oggend toe hierdie funksie sou plaasvind, gaan die leraar vroeg om die saak te beproef, sonder ’n gehoor of toe-skouers! Begelei deur mnr. Brand en werks-voorman, mnr. Bosman, op met die trappe, tot binne in die toring, uit op die dak, en dan met drie verskillende lere tot heelbo op ’n klein platform. Om daar van bo af te kyk grond toe, 100 vt. vêr, was geen aangename ondervinding nie! Later, om 11:00 vm., in die openbaar, word die toringbestyging weer aangepak en suksesvol uitgevoer tot bewondering van sommige en tot verskrikking van andere! Die volgende dag – ’n leraar met sywe bene en seer beenspiere!” En oor die vertrek na Graaff-Reinet: “Vir die pastoriegesin en vir die Gemeente was die afskeid ’n hartseergeleentheid – nie omdat ons sulke goeie mense was nie – maar ons was mekaar se eerste liefde.”

DS. A.M. ROBERTSON (1961-1967)

Gedurende die vakature verrig die hoof-ouderling, eerw. Holzapfel, sekere van die noodsaaklikste pligte. Na verskeie beroepe word ds. A.M. Robertson op 5 Januarie 1961 beroep en die egpaar word die naweek van 24-26 Februarie in die Gemeente ontvang. Hy het hom eers as onderwyser bekwaam en gedurende 1941 onderwys gegee aan die Laerskool Manie le Roux op George. In 1942 gaan hy na Stel-lenbosch vir die Admissie B.A.-graad. Sy eerste gemeente was Murraysburg waar hy in April 1949 georden is. Daarna bedien hy De Rust, Piketberg, Wellington-Noord, Gamka-Vallei, George en Swellendam.
’n Belangrike taak wat op ds. Robertson se skouers gerus het, was om die kerkbouskuld af te werk. Die sukses van die gemeentesusters se projek, die resepteboek Uitgesoekte Tertresepte het alle verwagtings oortref. Een tiende van hierdie inkomste het die susters afgestaan vir die kerkbanke van die Wagenmakersvallei kerkge-bou wat juis gedurende daardie tyd as nasionale gedenkwaardigheid verklaar is. Ook die Kinder-sendingkrans het gehelp om geld in te samel vir die ligte van dié kerkgebou.
In ds. Robertson se dienstermyn is die Vrouediens op gemeentelike basis georganiseer. Hulle ywer het o.a. bygedra dat die Gemeente die volle bedrag vir die orrel, t.w. R7 960, in Oktober 1961 kon afbetaal.
Op Donderdagaand, 1 Junie 1967 word op gepaste wyse van ds. en mev. Robertson afskeid geneem wat die beroep na Gamka-Vallei aangeneem het.

DS. W.C. VAN DER MERWE (1968-1971)

Ds. Van der Merwe het sy bediening as predikant in 1947 by die gemeente Calvinia begin. Daarna het hy die gemeentes Luanshya (Zambië), Paarl-Vallei, Worcester-Oos en Thornton bedien, waarna hy oor die naweek van 2 – 4 Februarie in Wellington-Noord ontvang en bevestig is.
Die Pinkster van 1968 is deur die Here gebruik om ’n merkwaardige geestelike vernu-wing in die Gemeente te bring. Binne die eerste jaar van sy bediening is ook die laaste paaiement van die kerkskuld afbetaal sodat die kerkraad dadelik kon begin beplan vir die bou van ’n doelmatige kerksaal. Die tender is vir R78 800 aan mnr. W.D. Jackson toegeken. Dié saal is in Junie 1971 voltooi en op Vrydagaand, 30 Julie ingewy.
Die Vrouediens is in hierdie tyd heror-ganiseer en die leraarspaar het die susters van elke wyk afsonderlik byeengebring om die werksaamhede opnuut te verduidelik. Die doel-treffende funksionering van die wykstelsel het hieruit voortgevloei.
Ds. Van der Merwe het in Januarie 1971 ’n beroep as Sekretaris vir Ampsbediening en Evangelisasie van die Kaapse kerk aanvaar, maar kon op versoek van die Kerkraad nog tot Junie 1971 aanbly om die bou van die kerksaal te help afrond.

DR. D.A. DU TOIT (1971-1973)

Dr. D. du Toit, dosent in Dogmatiek aan die Hugenote Kollege is hierna na Wellington-Noord beroep met opdrag Hugenote Kollege, sodat hy op ’n deeltydse basis gemeentewerk gedoen het. Op 1 Desember 1973 is daar van hom afskeid geneem. Na ’n draai by die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria, verskuif hy in 1978 na die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Stellenbosch

DS. C.F. MARAIS (1971-1975)

Ds. en mev. C.F. Marais word op 27 Augustus in die Gemeente ontvang. Hy het vanaf 1954 die gemeentes Thornton, Roode-poort-Noord, Horison, Heidelberg Tvl. en Suikerbos-Rand bedien. Gedurende die naweek 27-29 Augustus 1971 word hy in Wellington-Noord bevestig. Hulle vertrek in 1975 na Vereeniging-Oos.

12.100 DR. P. BEKKER (1975-2002)

Op Saterdag, 19 Julie 1975 word ds. en mev. P. Bekker, voorheen van Modderrivier-Ritchie in die gemeente ontvang. Hy is aan die begin van 1967 as predikant op Postmasburg georden. Aan die einde van 1970 vertrek die egpaar na Modderrivier-Ritchie.
Deur middel van privaat studie behaal hy die grade B.A. Hons., M.A. (Cum Laude) en op 25 Maart 1982 promoveer hy aan die UOVS met die D.Phil. Beide die skripsie en die tesis het oor ’n sektelerende onderwerp gehandel en die leer van Herbert W. Armstrong ondersoek.
Gedurende die Bekkers se bedieningstyd-perk het die gewone werksaamhede uitgebrei. Die Vrouediens is goed georganiseer en goeie dienste word gelewer, interessante programme aangebied en groot bedrae geld ingesamel.
Op gemeentevlak het die klem op wyke geval – daarom word daar gereeld in al die wyke maandelikse vergaderings asook Vrouediens-byeenkomste gehou. Daar bestaan ’n hele aantal Bybelstudiegroepe vir dames in die Gemeente en een waarby mans en dames betrokke is. Daar het ook ’n paar omgeegroepe ontstaan.
Gedurende die afgelope 25 jaar, m.a.w. vanaf 1975 tot 2000, het die Gemeente baie gespandeer op die terreine van die Sending, Evangelisasie, Jeugwerk en Diens van Barmhar-tigheid. Deur die jare is daar honderdduisende stukke lektuur en boeke in Afrikaans, Engels en Xhosa versprei.

By geleentheid word ’n muntlegging gereël – kinders neem gewoonlik hieraan deel en die opbrengs gaan vir ’n spesifieke doel. Vir ’n hele aantal jare word gebruikte posseëls deur die kategese ingesamel en ten bate van Bybelver-spreiding geskenk.
Elke kwartaal doen die Gemeente op ’n georganiseerde wyse mee aan aksie “Nag van Gebed”. Elke deelnemende lidmaat bid tuis vir spesifieke onderwerpe en skakel dan die volgende persoon wat die gebedsketting voortsit.
’n Sang- en Eredienskommissie neem leiding met die aanleer van nuwe liedere, Psalms en Gesange.
Die Gemeente beskik oor ’n “spens” wat opgebou word uit bydraes vanuit die wyke en voorrade word aangewend om gesinne wat werkloos is sonder inkomste te help.
Gedurende die afgelope paar jaar toon die Gemeente ’n geleidelike groei in die volwasse lidmaattotaal.
Gedurende 1996/1997 werk ds. R.C. Bekker as mede-leraar (tentmaker) totdat hy ’n beroep na Windhoek-Noordland aanneem.
Vanaf 11 April 1999 tot 2002 werk dr. Flip Loots as medeleraar (tentmaker) in die gemeente. Hy is ook verbonde aan Christen Netwerk Media. Hy het in die predikkunde, liturgie en radiowerk gespesialiseer.